Ek wil graag 'n kort gedagte deel met Johannes 11:28b as kern Skrifgedeelte. Hier vind
ons die woorde van Martha opgeteken toe sy haar suster kom roep het in die
huis, direk nadat Jesus geariveer het: "...Die Meester is hier en Hy roep
jou"
'n
Onmiddellike reaksie
Ons sien in die verhale soos dit in die Woord van die Here
opgeteken is, dat mense oorwegend onmiddellik gereageer het op die Here se
roepstem in hul lewe. Ons sien dat mense skaars nadat hulle Jesus Christus
ontmoet as hul Saligmaker, bykans onmiddellik 'n daadwerklike aksie toon deur
hul lewe te begin wy aan 'n roeping om as instrument in die Here se hand te
dien. Maw, dit het nog nooit net gegaan om net seker te wees ek gaan hemel toe
nie. Alhoewel dit die belangrikste van alles is, om sekerheid van saligheid te
hê, sien ons hoe mense oombliklik as volgelinge van Jesus reageer en hul lewe
op die missie van hul Heer en Meester plaas sonder versuim. So,
kom die vraag na ons toe vandag. Het die Here al gearriveer in jou lewe? Het
die Here by jou huis aangekom? Indien jy al die kennis ontvang het dat die
Meester hiér is, wat is jou reaksie? Ons lees dat toe Maria hierdie
kennisgewing vanaf Martha ontvang, dat sy onmiddellik opgestaan het en na Jesus
toe gegaan het. Maria het 'n hart vir die Here en Sy werk gehad. Sy was
inderdaad die een wat by die voete van Jesus gaan sit het. Sy het die vermoë
gebruik om nie net aan die Here te behoort nie, maar om onmiddellik te reageer
op die Here se roepstem in haar lewe. Sy het nie verdere tyd verwyl nie. Ons
lewe op aarde is een GROOT geleentheid om deur die Here gebruik te word. Onthou
dit!
Die
Meester se roepstem is transformerend
Ek kan nie help om te verwys na die kosbare woorde van Jesus
soos dit opgeteken is in Johannes 4:19 nie: "En Hy
sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak."
In hierdie kwartaal praat die Here met ons oor hierdie daaropvolgende,
onmiddellike reaksie op die Here se roepstem, maar ook oor die impak wat die
Here se roeping op ons lewe het. Die Here het tereg met die roeping van Sy
dissipels op aarde gesê: "en Ek sal julle...maak", want
Sy roepstem in ons lewe is transformerend. Dit bring 'n verandering in ons lewe
teweeg wat ons vaartbelyn maak om effektief in die Here se diens te leef. Ons
sien hoe elkeen van die dissipels tog eers 'n geruime tyd in opleiding was,
maar hul antwoord op die Here se roepstem het hulle lewens onherroeplik
verander. So, ek voel dat ons nie net moet weet van die Here se roeping op ons
lewe nie. Ons moet ook nie net kan getuig van Sy daadwerklike roepstem in ons
lewe nie. Wat regtig saakmaak is eerstens ons antwoord op Sy roepstem en tweedens
om te weet dat Sy roeping op ons lewe die plan wat God met ons het, kom vervul.
Petrus het nie die verkeerde passies en talente gehad as visserman nie. Nee!
Maar, hy was geroep om op 'n baie dieper dimensie en 'n baie groter skaal vis
te vang as wat hy ooit kon droom.
So, is dit
waar vir jou en my lewe ook. Wanneer ons antwoord op die roepstem van die Here
dan word alles wat ons is, beklemtoon en eksponensieel vervul in die groter
roeping wat die Here met ons lewe het. Het jy al aangemeld vir diens by die
Meester? Wag jy vir eendag, of dink jy dit is tyd dat jou skeppingsdoel tot vervulling
kom? Die Here het verseker 'n reddingsdoel met jou lewe en dit is groter as net
jou eie siel se saligheid. Ja, daar is 'n groter plan. En Hy sê vandag nog oor
jou: "Volg My, en ek sal jou maak..." Hy sal ons vorm; Hy sal
ons toerus; Hy wil ons gebruik vir meer as wat ons ooit kon droom.
Die Here
roep elkeen
Ek wil ook as deel van hierdie boodskap by jou pleit,
geliefde van die Here. Moenie die roeptstem van die Here ontken of ignoreer
nie. Die woorde van Martha was duidelik: "Hy roep jou." Daar is
geen dubbelsinnigheid of onduidelikheid in hierdie 3 woorde nie. Ek verstaan
dat dit moontlik vir jou te direk is en jou miskien te ongemaklik laat voel,
maar dit is die realiteit van die saak. Al beskou jy jouself as deel van 'n
groter, algemene roeping kan jy nooit jouself laat verdwyn in die massa nie.
Keer op keer het Jesus bewys dat Hy bemoeienis maak met 'n mens. Hierdie mens
het 'n spesifieke nood gehad en 'n spesifieke situasie beleef en dikwels was
die naam van die mens spesifiek genoem. Maar, daar was altyd ook 'n spesifieke
verwysing na hierdie spesifieke mens se roeping in diens van die Here. Maw, die
Here roep ons nie maar net so in die algemeen nie. Hy roep jou! As jy wil kan
jy saam met my jou naam insit in die kosbare woorde soos opgeteken in Johannes 11:28b "...Die
Meester is hier en Hy roep vir ____________________ (jou)." Ja, Hy
roep jou by die naam en praat met jou en jou alleen. Niemand anders het daardie
dag in die huis van Lasarus opgestaan en onmiddellik na Jesus toe gegaan nie.
Hulle het ook nie skielik as 'n groep na Jesus toe gegaan nie. Nee, Maria was
geroep en dit was alleen Maria wat onmiddellik geantwoord het op die roepstem
van die Here aan haar! Wat wel kosbaar is, is dat baie ander nuuskierig was en
wel besef het sy is oppad na Jesus toe en was daarom kort op haar hakke. Maar,
moenie miskyk hoe belangrik dit was dat Maria daardie dag besef het dat die
Here met niemand anders praat, behalwe met haarself nie.
Is jy een
van die elkeen wat al geantwoord het op die Here se roepstem in jou lewe? Doen
jy wat jy doen vir die Here? Is jy op jou eie missie? Is jy saam met die Here
op Sy missie? Die Here wil in hierdie kwartaal kom benadruk dat Hy ons
elkeen by die naam geroep het. Hy het ons elkeen op 'n spesiale manier
geskep en gevorm om kardinaal te wees tot die groter plan wat Hy met die
mensdom het. Hy het vir ons elkeen ore gegee om te hoor. Sy roepstem word nie
maar net uitgesaai nie, maar Hy roep direk en spesifiek tot ons elkeen
afsonderlik. Kan ek soos 'n Martha in jou oor kom fluister met een van
die belangrikste kennisgewings wat jy in jou lewe kan ontvang? "Die
Meester is hier..." Jesus Christus jou Heer en Heiland is
teenwoordig. Hy het gekom vir jou. Hy is geinteresseerd in jou. Hy wil met jou
ontmoet. "...en Hy roep jou." Hy vra na jou. Hy benodig jou. Hy het
jou naam genoem. Moenie omkyk nie, ja Hy praat met jou en roep jou! Elkeen is
geroep!
Die
Here seën jou ryklik.